Steven Spielberg

Steven Spielberg
'n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Steven Spielberg in 2023.

Geboortenaam Steven Allan Spielberg
Geboorte 18 Desember 1946 (1946-12-18)
Cincinnati, Ohio
Nasionaliteit Verenigde State
Beroep(e) filmregisseur, filmvervaardiger
Rolprente Jaws, ET
Internet-rolprentdatabasis-profiel

Steven Allan Spielberg KBE (gebore 18 Desember 1946) is 'n Amerikaanse regisseur, vervaardiger en draaiboekskrywer. Hy is 'n belangrike figuur in die New Hollywood-tydperk en 'n pionier van die moderne supertreffer. Hy is die kommersieel suksesvolste regisseur in die geskiedenis[1] en is al 'n rekordgetal van 13 keer vir 'n Oscar vir beste prent benoem.

Spielberg het talle pryse gewen, insluitende drie Oscars, twee Baftas en vier Directors Guild of America-pryse, sowel as die AFI Life Achievement-prys in 1995, die Kennedysentrum-eerbewys in 2006, die Cecil B. DeMille-prys in 2009 en die Presidensiële Vryheidsmedalje in 2015. Sewe van sy rolprente is deur die Library of Congress in die Nasionale Rolprentregister ingesluit as "kultureel, histories of esteties belangrik".[2][3]

Spielberg het in Kalifornië in die rolprentwese studeer. Nadat hy verskeie televisie-episodes verfilm het, het hy die TV-fliek Duel (1971) geregisseer. In 1975 het hy beroemd geraak met die supertreffer Jaws. Hy was die regisseur van nog lokettreffers soos Close Encounters of the Third Kind (1977), E.T. the Extra-Terrestrial (1982) en die oorspronklike Indiana Jones-trilogie (1981-'89). Hy het daarna die dramarolprente The Color Purple (1985) en Empire of the Sun (1987) geregisseer.

In 1993 het Spielberg twee treffers geregisseer: die wetenskapsfiksieprent Jurassic Park, die grootste lokettreffer destyds, en die Holocaustdrama Schindler's List, wat dikwels genoem word een van die beste rolprente wat nog gemaak is. Hy het die Oscar vir laasgenoemde en die epiese 1998-rolprent Saving Private Ryan oor die Tweede Wêreldoorlog gewen. Sy rolprente daarna sluit in A.I. Artificial Intelligence (2001), Minority Report (2002) en War of the Worlds (2005); die avontuurprente The Adventures of Tintin (2011) en Ready Player One (2018); die historiese dramas Amistad (1997), Munich (2005), War Horse (2011), Lincoln (2012), Bridge of Spies (2015) en The Post (2017); die musiekprent West Side Story (2021); en die halfoutobiografiese drama The Fabelmans (2022).

  1. "Top Grossing Director at the Worldwide Box Office". The Numbers. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Oktober 2019. Besoek op 25 Desember 2022.
  2. Kreps, Daniel (12 Desember 2018). "'Jurassic Park,' 'The Shining,' 'Monterey Pop' Added to National Film Registry". Rolling Stone (in Engels (VSA)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 April 2022. Besoek op 21 April 2022.
  3. "Complete National Film Registry Listing". Library of Congress. Washington, D.C. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Maart 2016. Besoek op 16 Desember 2020.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search